Angstigheid en spanning is een van die grootste struikelblokke vir ‘n spreker wanneer hy ‘n toespraak moet lewer. Of dit ‘n oorredende toespraak is wat hy voor ‘n paneel van beoordelaars en ‘n gehoor lewer, en of dit ‘n inligtingstoespraak is wat hy voor sy onderwyser en klasmaats moet lewer, angstigheid belemmer sy voordrag. Sommige leerders sal net ‘n bietjie senuweeagtig voel voordat hulle moet optree, maar ander sal vir weke voor die tyd hulself opwerk.
Die probleem met angs is dat dit jou letterlik sprakeloos maak. Jy kan nie ‘n woord uit kry nie, terwyl die gehoor na jou staar! Dit gee ‘n spreker se selfvertroue ʼn knou en maak hom nog meer angstig met sy volgende optrede. So hoe kan ‘n mens hierdie bose kringloop van angstigheid verbreek? Hier is ‘n paar idees wat sprekers se spanning kan help verminder wanneer hulle ‘n toespraak moet lewer.
Wanneer jy jou toespraak baie goed ken, maak dit die “wat as?” vrae minder.
Sprekers wat ‘n toespraak moet lewer vra gedurig “maar wat as iets gebeur...?!” Hulle is bang vir verleentheid, daarom vra hulle: “Wat as ek my woorde vergeet?!” of “Wat as ek ‘n gedeelte van my toespraak uitlos?” Notas is ‘n belangrike hulpmiddel, maar hulle is net so effektief soos ‘n waterdigte teesakkie as jy nie elke dag jou toespraak oefen nie! Baie sprekers dink dat oefen beteken om jou toespraak ‘n paar keer voor jou optrede soos ‘n papegaai op te sê. Oefen beteken egter veel meer as dit. Wanneer jou aandag afgetrek word deur ‘n selfoon wat lui, ‘n baba wat huil, of jou notas wat deurmekaar raak, raak jy op jou senuwees. Dit is dan baie moeilik om te herstel en kalm aan te gaan met jou toespraak, want jy het jou toespraak slegs as ‘n geheel geleer, en dit nooit opgebreek in kleiner dele nie.
‘n Spreker moet die struktuur van sy toespraak verstaan, sodat hy kan verstaan watter deel pas waar en hoekom die volgorde van argumente en paragrawe soos dit is. Jy kan ons gratis leesstuk “Hoe om ‘n WEN redenaars toespraak te skryf” op ons webwerf aflaai om meer te wete te kom oor die struktuur van ‘n toespraak. Nadat ‘n spreker die struktuur van sy toespraak verstaan, moet hy seker maak dat hy elke woord, frase, statistiek, aanhaling, ens. verstaan, want jy kan nie jou gehoor van jou standpunt oortuig as jy dit nie self ten volle verstaan nie. Daarna moet ‘n spreker die toespraak in kleiner dele opdeel, bv argumente, en later paragrawe binne ‘n argument. Sprekers moet dan gevra word om eers die hele toespraak te lewer, maar dan ook net sekere gedeeltes, of om in die middel van die toespraak te begin. As jy so oefen gaan jy jou toespraak baie goed leer ken, en dit gee jou die selfvertroue om enige krisis wat mag opduik tydens jou voordrag, te hanteer. Dit verseker dat jy met gemak op enige plek in jou toespraak kan aangaan. Dit maak die leer van die toespraak meer pret, want jy weet nooit waar jou ouer of onderwyser jou gaan laat begin of gaan stop nie. Jy kan ook gevra word om by die slot te begin en die toespraak van agter af aan te bied!
Om sprekers se selfvertroue ‘n hupstoot te gee moet hulle die geleentheid gegee word om in die openbaar op te tree.
Wanneer jy ‘n leerder wil help om ‘n uitstekende spreker te word, moet jy ophou vasklou aan die siening dat kinders gesien en nie gehoor mag word nie. Dit beteken dat ‘n ouer geduldig en kalm moet bly met hul kinders se aanhoudende gebabbel en eerder tot tien moet tel voordat hulle dit oorweeg om hul stil te maak. Jy kan nie van ‘n kind verwag om oortuigend en sonder angs voor ‘n gehoor te praat as hy nooit die geleentheid gegee word om sy sê te sê tydens verskillende situasies nie. Hier is ‘n paar idees om ‘n spreker se selfvertroue te help verbeter:
- Vra hom om sy opinie te gee oor ouderdoms-toepaslike en huidige onderwerpe.
- Deel te neem aan ‘n gesinsdebat soos bv oor hoekom hy meer sakgeld moet kry.
- Moedig hom aan om deel te neem aan aktiwiteite soos drama, koor, eisteddfod, of enige ander aktiwiteit waar hy voor mense moet optree, al is dit in ‘n groep.
- Laat hy ‘n gebed doen, of ‘n kort toespraak lewer tydens ‘n familie- byeenkoms.
- Luister geduldig wanneer hy vir jou ‘n minuut-per-minuut verslag gee van hoe sy dag verloop het, en vra vrae oor wat hy beleef het.
- Soos wat kinders groter word droog hulle woorde op en kry hulle stilstuipe! Die meeste wat jy uit tieners kry is een-woord antwoorde. Daarom is dit belangrik om aan te hou vrae vra en werklik belang te stel in wat hulle sê.
- Wanneer jonger kinders maats of neefs en niggies oornooi, moedig hulle aan om ‘n toneelstuk vir die grootmense op te voer, of ‘n lied te sing.
- Moedig ouer kinders aan om betrokke te raak by skool- en kerkgeleenthede waar hulle voor mense kan praat.
- Oefen impromptu toesprake. Skryf ‘n paar relevante onderwerpe op papier neer en laat kinders dit uit ‘n houer trek. Gee hulle ‘n paar minute om voor te berei en te dink wat hulle wil sê oor die onderwerp. Dit is ook ‘n aktiwiteit wat onderwysers in die klas kan gebruik. Dit gee kinders die geleentheid om onvoorbereide toesprake, wat gewoonlik baie stres veroorsaak, te oefen.
Vrees en spanning kan verminder word wanneer sprekers bloot gestel word aan dit wat hulle angstig maak. Dit word genoem sistematiese desensitisering. As jy bang is vir spinnekoppe, moet jy geleidelik gewoond gemaak word aan spinnekoppe deur eers aan spinnekoppe te dink. Dan kan jy na prente van spinnekoppe kyk. En later kan jy selfs ‘n boks met ‘n spinnekop in vashou. So leer jy om jou vrees te bowe te kom. Dieselfde beginsel geld vir toesprake lewer. Begin met klein uitdagings – soos om aan tafel te bid of jou opinie oor ‘n saak te gee. Daarna kan jy dit opbou totdat jy gereed is om voor ‘n gehoor op te tree. Verandering gebeur nie oornag nie. Geduld en aanmoediging is die sleutelwoord.
Wanneer sprekers gehelp word om hul verwagtings realisties te hou, maak dit diedruk minder
Meeste sprekers verbeel hulle dat die ergste gaan gebeur. Hulle is bang dat hulle oor hul eie voete gaan val, terwyl die hele gehoor vir hulle lag. Of dat hul klasmaats gaan dink hulle het die IK van ‘n klip wanneer hulle hul woorde vergeet! Dit is belangrik dat ‘n mens sprekers moet aanmoedig om oor hul vrese te praat. Vra hulle of hulle werklik dink dat die slegste gaan gebeur, en of hulle dink dat hulle vir ‘n mede-spreker sal lag as hy oor sy eie voete val. Heel waarskynlik sal hul jammer voel vir so ‘n leerder, en trots wees op hom as hy die moed het om op te staan en voort te gaan met sy toespraak. Wanneer sprekers oor hul vrese praat, help dit hulle om meer realisties te dink oor die spoke wat hulle opjaag deur die ergste te verwag.
Sprekers verwag van hulself om perfek te wees wanneer hulle ‘n toespraak lewer. Dit is dan nodig om hulle daaraan te herinner dat die beste sprekers soms ‘n af-dag het en ‘n fout maak en dat dit aanvaarbaar is. Die beste sprekers moet ook oefen en hard werk om sukses te behaal. Help sprekers om te besef dat hul verwagtinge realisties moet wees, veral wanneer hulle begin om toesprake te lewer op die verhoog. Maak seker dat sprekers besef dat as hulle nie ‘n plek behaal tydens ‘n kompetisie nie, of 80% kry vir hul klastoespraak kry nie, dit nie beteken dat hulle ‘n mislukking is nie, maar dat dit ‘n geleentheid is om te verbeter.
Sprekers moet besef dat dit normaal is om gespanne te voel wanneer hulle voor ‘ngehoor en beoordelaars moet optree
Swetende handpalms, onstuimige hartklop, duiseligheid, naarheid, sukkel om asem te haal.... Spanning en angs veroorsaak fisiese simptome wat so erg raak dat hulle so siek voel dat hulle selfs moet dokter toe gaan. Sommige sprekers voel bietjie gespanne voor ‘n optrede, maar ander kry ‘n angsaanval en dit maak dat hulle openbare optrede vrees.
Die belangrikste wat sprekers moet besef is dat dit normaal is om so te voel en dat dit geen skade kan aanrig om angstig te voel nie. ‘n Spreker ervaar dieselfde sensasie as wanneer hy ‘n honger leeu in die gesig sou staar wat dink hy is die hoofgereg op sy spyskaart! Jou brein is geprogrammeer om jou in veg of vlug reaksie te laat oorgaan sodat jy die gevaar situasie kan hanteer. Meeste van die tyd besluit jy om te vlug!
Sprekers moet aangemoedig word om hierdie gevoelens van magteloosheid en angstigheid te oorkom deur te besef dat dit ‘n natuurlike reaksie van die liggaam is tydens ‘n spanningsvolle situasie.
Asemhalingstegnieke sal sprekers help om te ontspan
Asemhalingsoefeninge help om stresvlakke te verlaag en verlig angssimptome. Wanneer ‘n mens gespanne is, versnel jou hartklop en word jou asemhaling al vinniger en vlakker. Dit lei tot ongemaklike fisiese simptome soos hierbo bespreek.
Dit laat jou voel asof jy ‘n marathon gehardloop het, maar ook asof jy letterlik wil weghardloop van jou situasie af! Wanneer jy jou asemhaling beheer, help dit om die stres te verlig en te fokus op dit wat jy moet doen. Daar is baie asemhalingstegnieke wat gebruik kan word. Laat sprekers dit probeer en dan besluit wat vir hulle die beste werk. Hier is ‘n paar voorbeelde van asemhalingsoefeninge wat sprekers se asemhaling stadiger en dieper maak. Hulle kan dit doen voordat hulle op die verhoog gaan om hul toespraak te lewer:
- Buik en diafragma asemhaling: Lê op jou rug op die vloer en haal stadig en diep asem. Verbeel jou dat jou maag ‘n ballon is wat jy moet opblaas en weer stadig afblaas. Jonger kinders kan hierdie oefening doen met ‘n opgestopte speelding op hul maag. Hulle moet dan stadig en egalig asemhaal sodat die speelding liggies op en af beweeg en nie afval nie.
- Ritmiese asemhaling: ‘n Voorbeeld van hierdie tegniek is die 4-7-8 metode waartydens jy al jou asem moet uitasem, dan deur jou neus inasem vir 4 sekondes, hou dan jou asem op vir 7 sekondes, en asem uit deur jou lippe vir 8 sekondes. Die tellings kan verander word om by die spreker te pas, maar die verhouding moet dieselfde bly.
- Gefokusde asemhaling: Daar is verskeie soorte tegnieke. ‘n Eenvoudige voorbeeld is om normaal in en uit te asem, terwyl jy konsentreer op een deel van jou liggaam soos byvoorbeeld die neus waardeur die lug in en uit beweeg. Jou gedagtes sal begin dwaal as jy gespanne is, maar dan moet jy jou gedagtes terug bring na die deel van die liggaam waarop jy fokus.
- Visualiserings asemhaling: Dink aan jou gunsteling kleur asook die kleur waarvan jy die minste hou. Verbeel jou jy haal asem in met jou gunsteling kleur en dit vul jou met selfvertroue en kalmte, terwyl jy uitasem met die kleur waarvan jy nie hou nie terwyl al die angs en onsekerheid daarmee saam uit jou liggaam vloei.
Met oefening en geduld kan asemhalingstegnieke nuttige hulpmiddels word wat sprekers kan help om hul vrees te oorkom. Asemhaling is ‘n natuurlike ding vir ‘n mens om te doen, so jy hoef nie verleë te voel wanneer jy hierdie tegnieke voor ‘n optrede gebruik nie.
Ten slotte – die bekende buitelug oorlewingsdeskundige Bear Grylls het gesê: “Brawe mense het ook vrese. Om braaf te wees beteken om deur jou vrees te werk.” Ons hoop dat hierdie wenke oor spanning en angs sprekers sal help om deur hulle vrees vir die verhoog en toesprake lewer te werk en dit te bowe te kom, sodat hulle met kalmte en selfvertroue voor ‘n gehoor sal kan praat. .