Om goeie punte vir ‘n eksamen te kry, moet jy leer. Om te presteer op die sportveld moet jy oefen. Onvoorbereide toesprake is nie anders nie. Dit verg goeie beplanning en inoefening. Onthou, jy kan die beste redenaar wees, maar sonder ‘n goeie toespraak is jy soos ‘n rugbyspeler sonder ‘n bal.
Haal die angs uit onvoorbereide toesprake:
Die idee van ‘n onvoorbereide toespraak maak kinders senuweeagtig en angstig. Dr Colinda Linde, ‘n sielkundige van Johannesburg, sê in die Sarie tydskrif van 19 Oktober 2016, dat angstige kinders kan kla oor maagpyn en hoofpyn, en hulle kan selfs slapelose nagte beleef. Ons weet kinders is emosionele en sensitiewe wesens, daarom is dit jou plig as ouer om hulle aan te moedig en kalm te hou. Makliker gesê as gedaan? Nee, nie regtig nie. Om onvoorbereide toesprake baas te raak, moet dit baie gereeld ingeoefen word. Baie ouers en kinders begin hiperventileer wanneer hulle ‘n onvoorbereide toespraak moet aanpak, maar hier is raad:
Hoe kan ek as ouer help?
Maak seker dat jy die angs verlig deur onvoorbereide toesprake vir kinders pret te maak. Ons almal weet kinders leer beter en vinniger wanneer vervelige take en opdragte pret gemaak word. As hulle dink dis ‘n speletjie (jonger kinders), of ‘n kompetisie (ouer kinders) is dit baie makliker om idees uit te dink. Om jonger kinders te leer om op hulle voete te dink, gebruik prentjies en laat jou kind vir jou ‘n storie oor die prentjie vertel. Vir ouer kinders, hou ‘n redenaars roulette. Gooi ‘n paar onderwerpe in ‘n boks, en laat die hele gesin saam speel. Elkeen moet ‘n onderwerp trek uit die boks. Besluit dan of jy VIR of TEEN die onderwerp wil redeneer. Jy kry dan 5 minute om baie vinnig ‘n treffende inleiding, 3 stawende argumente, en ‘n treffende slot uit te dink. Dan kry jy die geleentheid om jou ‘raamwerk’ vir ‘n toespraak te lewer. Tydens ‘n volgende oefening sluit jy voorbeelde en redenasies by elke argument in. En nog later kan sprekers bronne uit hul duim uit suig om hul argumente te staaf. Dit is groot pret!
Vir die wat nog geen inoefening gedoen het nie, skop die oefeningsproses af deur jou redenaarspreker te leer om sy/haar gedagtes te verwoord. Hulle kan elke dag die positiewe en negatiewe van die dag neerskryf en ook hoekom dit vir hulle positief of negatief was. Onthou om dit lekker te maak.
Ouers en kinders spandeer baie tyd in die motor oppad skool toe. Gebruik hierdie tyd om ‘n dinkskrum te hou. As julle ‘n boom sien, laat almal in die motor 3 punte oor bome noem. As julle rommel langs die straat sien lê, laat almal 3 punte noem oor die nadele van rommel-strooiing. Dit leer sprekers om vinnig en logies te dink.
Om sprekers se redenasievermoë te verbeter, kan ouers en kinders redeneer oor onderwerpe soos ‘hoekom wil ek meer sakgeld hê’, of ‘hoekom is beurtkrag voordelig of nadelig.’
Om sprekers te prys en belonings te gee vir gereelde oefening is ‘n goeie idee.
Voordele van onvoorbereide toesprake:
- Dit help kinders om nie net hul sê te sê tydens ‘n onvoorbereide toespraak nie, maar ook in die alledaagse lewe.
- Toesprake uitdink en skryf is ‘n kuns, en om die struktuur onder die knie te kry, gee kinders die selfvertroue om ook hul gedagtes te orden om opstelle te skryf. Dit gee weer hul Afrikaanse en Engelse punte ‘n hupstoot.
- Dit help ook met memorisering en konsentrasie wanneer jy moet leer vir toetse en eksamens.
- Dit help ook om kinders se algemene kennis en leesvermoë te bevorder.
Jy moet besluit of jy VIR of TEEN die onderwerp wil redeneer
In meeste gevalle word die onderwerp vir leerders gegee tydens onvoorbereide redenaars. Jou doel is om te besluit of jy VIR of TEEN die onderwerp stem. En dan moet jy 3 standpunte gee om jou opinie te staaf. Dit mag dalk soos Grieks klink, maar is heel eenvoudig as jy net die volgende basiese beginsels volg.
Verlede jaar se onvoorbereide tema vir Graad 6 – 7 leerders in die Limpopo provinsie was: ‘Rolmodelle is belangrik vir kinders’. Neem die onderwerp en vra jouself af: “Dink ek rolmodelle is belangrik vir kinders en hoekom dink ek so?” As jy dink rolmodelle IS belangrik vir kinders, besluit jy om VIR die onderwerp te stem. Dus is jou onderwerp: Rolmodelle is beslis belangrik vir kinders.
Nou moet jy drie redes gee hoekom jy dink rolmodelle belangrik is vir kinders. Jou standpunte kan soos volg wees:
Eerstens – Rolmodelle leer kinders verantwoordelikheid
Tweedens – Rolmodelle leer kinders om hard te werk
Derdens – Rolmodelle leer kinders goeie waardes
Beplan die tyd wat jy gaan spandeer om jou toespraak te skryf en te oefen
Aangesien jy slegs EEN UUR het om die toespraak te skryf, in die bronne na te slaan, en die voordrag te oefen, is dit baie belangrik om die stappe te beplan. Gebruik 45 minute om te skryf en deur die bronne te werk, en 15 minute om jou toespraak te leer. Oefen gereeld om hierdie vaardigheid te bemeester.
Gee vir jou kind ‘n onderwerp en tydsbeperking. Laat hulle self besluit of hulle VIR of TEEN die onderwerp wil redeneer. Laat hulle self navorsing doen en bronne soek. Nie net help dit hulle om teen tyd te werk nie, maar dit bevorder ook hulle navorsingsvermoë. Moenie te krities wees nie, en gee hulle genoeg aanmoediging.
Beplan die struktuur van ‘n goeie redenaars toespraak:
Spreek eerstens die VOORSITTER aan.
INLEIDING – hou dit kort en kragtig. Die inleiding moet treffend wees en dadelik die gehoor en beoordelaars se aandag trek.
Voorbeeld:
Voorsitter
Tuisbly Moeders kyk na hulle kinders.
Vaders gaan elke dag werk toe om brood op die tafel te sit.
‘n Onderwyser staan voor ‘n klas vol kinders en maak ‘n verskil in hulle lewens.
Rolmodelle is nie altyd Hollywood sterre nie, maar eerder gewone mense.
Standpunt 1 begin met EERSTENS. Nadat jy jou eerste standpunt gestel het, moet jy ‘n bron vermeld. ONTHOU - jou bronverwysing moet die bron vermeld, asook die persoon wie die aanhaling gemaak het, sy/haar titel en veld van kundigheid, die naam van die artikel, en die datum wat die artikel of berig gepubliseer is. Bronne sal vir jou beskikbaar gestel word, so moenie te veel hieroor bekommerd wees nie. Gewoonlik word tydskrifte, koerantberigte, en gefotostateerde inligting gegee. Die bronne sal ook handel oor die onderwerp. Wat jy wel moet oefen, is om vinnig te soeklees. Dit sal jou help om vinnig ‘n gepaste aanhaling in ‘n gegewe bron te kry. Hierna moet jy dit duidelik stel dat jy saam stem met die aanhaling, of nie saam stem nie. Jou eie mening is ook baie belangrik. Gee nou twee voorbeelde, en eindig met ‘n slotsin wat jou argument saamvat.
Voorbeeld:
Eerstens – Rolmodelle leer kinders verantwoordelikheid.
Phillip Rushton, ‘n sielkundige van Pretoria,
Sê in die artikel “Rolmodelle se invloed”,
Gepubliseer op 2 Febr 2020 op maroelamedia.co.za”:
“Rolmodelle leer kinders verantwoordelikheid wanneer hulle self verantwoordelik optree deur byvoorbeeld nie oor ‘n rooi robot te ry nie.”
Hiermee stem ek saam.
Onderwysers leer ons dat harde werk bring sukses,
Want wat ons saai, sal ons maai.
As ons afskeep werk doen in die skool, sal ons swak punte kry.
Ouers stel die voorbeeld en leer ons om nooit af te skeep met huistake nie.
Jy sal nooit sien dat pa se boeke en skootrekenaar op die vloer van sy slaapkamer gestrooi lê nie!
Of dat ma die skottelgoed vir ‘n week laat ophoop tot teen die dak nie...! (Onthou die humor)
(Slotsin): Dit is dus duidelik dat goeie rolmodelle se voorbeeld kinders leer om verantwoordelik te wees.
Jy doen dieselfde met die volgende twee standpunte.
Daarna eindig jy met jou SLOT wat by jou inleiding moet aansluit.
Voorbeeld:
Moeders, Vaders en Onderwysers is vir sommige net normale mense.
Maar eintlik is hulle superhelde.
Kinders moet rolmodelle hê,
Maar kies eerder gewone mense wat bo-normale dinge kan verrig!
Petronell Vorster het op die webtuiste Afrikaans.com artikels oor die skryf van redenaars toesprake gepubliseer. Sy reken dat wanneer jy die regte struktuur gebruik, jou toespraak nooit sal flop nie.
Wees kreatief en gebruik humor en aktuele gebeure:
Onthou humor, humor, humor – is die sleutel tot ‘n suksesvolle toespraak.
Sodra jy die argument (standpunt) gestaaf het, moet jy een of twee voorbeelde gebruik. Fokus op jou alledaagse belewing van dinge en dit wat jy ken. Hier kan jy nou humor inbring. Jou toespraak moet nie te lank wees nie. So konsentreer op die struktuur en maak seker dat jy kort en kragtige sinne gebruik.
Lees is jou geheime wapen
Hoe meer jy lees en hoe groter jou algemene kennis, hoe beter is jou voorbeelde. Lees baie algemene kennis artikels. Lees ook grappies, fiksie boeke, en selfs gedigte, idiome en vergelykings. ‘n Liefde vir lees moet reeds van vroeg af gekweek word. Kinders wat van ‘n jong ouderdom aangemoedig word om baie te lees sal definitief ‘n voorsprong hê as dit by skryf van toesprake kom.
Melanie Hartgill, ‘n opvoedkundige sielkundige, sê op www.uitblinkers.co.za dat ‘n goeie woordeskat van onskatbare waarde vir onvoorbereide skryfwerk is. En sy is nie die enigste een wat so reken nie. Dr Seuss het ook gesê: “The more that you read, the more things you will know. The more that you learn, the more places you will go.”
Laat kinders toe om tegnologie te gebruik.
Behalwe vir lees, kan google gebruik word om artikels en nuusberigte te soek en te lees. Indien ouers dit toelaat en onder streng toesig benader, kan kinders YouTube en TikTok videos kyk. Hierdie tipe kennis kan hulle ook baie help met kreatiewe, humoristiese skryfwerk.
Oefen, oefen, oefen
- Nog ‘n baie goeie manier om te oefen is om kinders aan te moedig om artikels en nuusbrokkies te lees. Dan kan hulle dit wat hulle gelees het aan die familie kom voordra. Hoe meer hulle oefen, hoe minder senuweeagtig sal hulle wees op die dag van die redenaarskompetisie.
- Oefen in die spieël – dit help met oogkontak asook gesiguitdrukking.
- Oefen nota-hantering en maak seker dat dit gemaklik voorkom.
Moet nooit moed opgee nie
Om vir die eerste keer ‘n onvoorbereide redenaars toespraak voor te dra, is senutergend. Maar moenie dat dit jou kind ontmoedig nie. Vermy angsaanvalle en stel jou kind gerus deur voor die tyd te oefen en te beplan. Dan sal die spreker die selfvertroue hê om die beoordelaars se voete onder hulle uit te slaan.
Onthou, ‘n onvoorbereide toespraak tel 80% van jou finale ATKV redenaars punt. Dus moet jy altyd hard oefen, en moet jy nooit moed opgee nie.
Henry Ford het gesê: “Mislukking is slegs ‘n geleentheid om weer te begin. Hierdie keer met meer wysheid.”